Leon Hendry Francois Mare

Leon Hendry Francois Mare

Male 1889 - Aft 1961  (72 years)    Has 74 ancestors and one descendant in this family tree.

Personal Information    |    Notes    |    All

  • Name Leon Hendry Francois Mare 
    Relationshipwith Francis Fox
    Born 14 Sep 1889  Pietersburg, Noord-Transvaal. SA Find all individuals with events at this location 
    Gender Male 
    Died Aft 1961 
    Person ID I1375722  Geneagraphie
    Last Modified 16 Aug 2011 

    Father Landros Dietlof Siegfried von Schönfeld Mare,   b. 27 May 1824, Uitenhage Find all individuals with events at this location,   d. 27 Jun 1890, Pietersburg, Noord-Transvaal. SA Find all individuals with events at this location  (Age 66 years) 
    Mother Carolina Augusta Eberhardt,   b. 2 Jul 1856, Schoemansdal Find all individuals with events at this location,   d. 27 Sep 1943, Pretoria, Transvaal, SA Find all individuals with events at this location  (Age 87 years) 
    Married 6 Aug 1876  Marabastad, Soutpansberg Find all individuals with events at this location 
    Siblings 6 siblings 
    Family ID F985784  Group Sheet  |  Family Chart

    Family Carolina Theodora van Staden,   d. Yes, date unknown 
    Children 
     1. Carolina Augusta Theodora Meleachi Mare,   d. Yes, date unknown
    Last Modified 16 Aug 2011 
    Family ID F986560  Group Sheet  |  Family Chart

  • Notes 
    • LEON MARÉ MEDE-GRONDLEGGER VAN DIE AFRIKAANSE PROSA
      (Geskryf deur Rinie Stead vir die Lantern van Maart 1961)

      Toe ek eindelik die kantoor binnestap en mnr. Maré se handdruk beantwoord, was die asof ek ’n belangrike ontdekking gedoen het. Hier was hy, die vergete baanbreker-skrywer uit die jare 1910, lewend en nog flink in sy kantoor werksaam – een van ons oudste nog lewende skrywers wat sy weg stil en beskeie en nog steed arbeidsaam bewandel.

      Volgens die naslaanwerke wat ek geraadpleeg het, moes hy in sy 72e jaar wees, maar sy jeugdige, nog kragtige voorkoms was nie daarmee te rym nie. En die mense by wie ek navraag oor hom gedoen het, het byna sonder uitsondering ontmoedigend geantwoord: “Leon Maré? Maar hy kan tog nie meer lewe nie.”

      Met ’n ou-wêreldse hoflikheid wat enige vrou soos ’n prinses sou laat voel, is ek deur ’n stil, sterk man ontvang wat straal van mensliewendheid en geestelike verfyning. Sy lewendige belangstelling is in alles en almal om hom, buiten in homself, en in so ’n mate gekonsentreer dat ek verplig was om die gesprek herhaaldelik weer na hom en sy skryfwerk terug te voer.

      Leon Maré is reeds 50 jaar staatsamptenaar, die afgelope 20 jaar in ’n tydelike hoedanigheid nadat hy reeds in 1940 afgetree het. Waar hy dié soort werk vroeër as ’n knelling aangevoel het en soms selfs kon opmerk dat hy “nooit lekker in die lewe ingepas het”, het hy dit vandag met sy rypere lewenservaring as ’n werksaamheid aanvaar wat hom wakker en jonk hou.

      “Ander manne begaan die fout om na hulle aftrede te gaan boer of sommer net stil te sit. Dit is baie beter om met breinwerk vol te hou. Vandag wil ek die kantoorwerk nie verruil nie, ondat dit deel van my lewenspatroon geword het,” aldus die prosaskrywer.

      Gevolglik is ons onderhoud ewe saaklik tydens mnr. Maré se etensuur op kantoor gevoer, tussen die dokumente en papiere van die argiefafdeling van die Departement Onderwys, Kuns en Wetenskap te Pretoria. Om die foto’s te laat neem, het ons ná kantoortyd na sy rustige woning in Montain View, Pretoria gegaan. Hier het ons gasheer in teenwoordigheid van sy vriendelike gade ontspan en kon ons kennis maak met die kenmerkende Boere-gasvryheid en hartlikheid wat vinnig deur die gejaagde stadsbestaan verdring word. Ons was in teenwoordigheid van die ou Boere- adel – ’n eenvoudige, ou-wêreldse verfyning van gees en ’n opgregtigheid en gulhartigheid wat deesdae ’n seldsaamheid geword het.

      Hoewel Leon Maré vandag as skrywer feitlik onbekend en vergete is, is en bly hy een van die grondleggers van die Afrikaanse prosa, dié pionier op die gebied van ons verhaalkuns wat die weg vir latereprosaïste gebaan het. Kultuurhistories gesien, kan hy sy plek in die Afrikaanse letterkunde nie ontsê word nie. Sy aangrypende verhaal Die Putgrawer (uit sy eerste bundel Die Nuwejaarsfees), wat lankreeds klassiek geword het, is beslis die eerste ware kortverhaal in Afrikaans. En dit is reeds in 1910-1911 geskryf.

      In teenstelling met sy tydgenote vind ons by Maré ’n indringing deur die uiterlike tekening en gebeure tot die innerlike worsteling van die mensebestaan en hierdie indringing is boonop gedrenk in ’n persoonlike lewensiening wat so ’n onontbeerlike eienskap van ’n goeie kortverhaal is.

      Hy is ons eerste skrywer wat die gawe besit het om sy karakters te laat lewe en om ’n eie persoonlike klank in die Afrikaanse prosa te laat hoor. Hy vertel nie ’n verhaal terwille van die uiterlike gebeure nie, maar laat die lig op die algemene menslike val. Met ’n diepe insig in die menslike hart en ’n fyngevoelige waarnemingsvermoë belig hy die eienaardighede, gewaarwordings strewe, stryd, wanhoop of heroïek van eenvoudige mense in hulle daaglikse lewensbestaan. Dikwels skryf hy oor die verarmdes en verdruktes van die samelewing of oor die romantiek van die heroïese nasionale verlede wat hyself deurgemaak en ’n onuitwisbare indruk op sy ontvanklike jong gemoed gehad het.

      As ’n mens die skamele opbrengs en powerheid van die Afrikaanse letterkunde van toerentyd in gedagte hou, kan jy jou voorstel hoe diep sy sketse en verhale destyds sy lesers beïndruk het. In die voorwoord tot Die Nuwejaarsfees getuig Jan F. E. Celliers: “Hier het ons met iemand te doen wat dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie.”

      Maré kan ook skerp lewenskontraste teken, soos o.m. in Die Putgrawer, soms wrang of ironies, dan weer versag deure die besef van die algemeenheid van menslike blindheid en selfsug.

      Sommige van sy figure bly onuitwisbaar in die geheue: die sukkelende houtryer, die sieklike putgrawer, Moebi, die patetiese swaksinnige klonkie, die volksraadlid, die jong boerseun wat by die blokhuis sneuwel, die dappere boeremeisie uit die Vrystaat, en so meer.

      Maré is boonop ’n knap, boeiende verteller, Sy taal is suggestief-skilderend, sy styl realisties, dog nimmer fotografies-realisties. Hy hanteer dramatiese gebeure vlot en knap. “Met die Nederlandse Tagtiger Jacques van Looy het Maré due kuns van die ‘skilderende’ woord en die treffende aanskoulikheid gemeen,” sê dr. Rob Antonissen in Afrikaanse Letterkunde van die Aanvang tot die Hede.

      Waarderend kom dit ook van dr. P.C.Schoonees in sy Prosa van die Tweede Taalbeweging: “Sy krag lê nie in groot-opgesette tonele nie; dit is die vlugge vegies waarmee hy op verrassende wyse ’n realiteits-illusie kan skep. In sy werk is daar ’n inigheid wat die kleinste voorval beglans met ’n suiwer lig. Dan klink daat ook op in sy sinne ’n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste emosie omte vertolk”.

      Veel is daar egter ook reeds geskryf teen Maré se “jammerlike gebrek aan taalkennis”, sy taalfoute, soms te gebonde styl, ens. Dat dit by die bejaarde skrywer nog steeds ’n teer punt is, was dadelik duidelik, want sonder dat die onderwerp aangeroer is, was hy reeds op die verdediging:

      “Ek het in daardie dae maar geskryf soos die mense gepraat het. Daar was nie ’n woordeboek, spelreëls of grammatikaboeke vir ons nie. ’n Mens het maar net jou beste gedoen.”

      Van ’n taalfout kan ’n mens seker sê dat dit ’n fout is omdat dit van die beskaafde taalgebruik van die gemeenskap afwyk. Onthou moet word dat daar destyds nog skaars norms bestaan het. In Ons Eie Boek X, 3, 1944 het Oom Taalwag in dié verband geskryf:

      “Wie Maré lees, en meer bepaald Die Nuwejaarsfees herlees, moet hom taalkundig instel op die jare ’20, en letterkundig op ons kultuurtrap van daardie tyd. Anders word ’n onreg teenoor die skrywer gepleeg wat hom, gesien sy hoë verdienste in die ou begindae, nie toekom nie.”

      Reeds in 1910 het Maré as jong man van 20 jaar begin skryf in die taal wat hy elke dag gepraat het. “Slegs die klompie Patriotters het dit toe nog gewaag om in Afrikaans, die Hotnotstaal, te skryf,” vertel hy. “Vroeër het ek ook in Hooghollands probeer skryf, maar roe het ek gevind dat dit veel makliker in Afrikaans gegaan het.”

      Dit was egter ’n worsteling om gedagtes en gevoelens in ’n taal uit te druk wat onbekend was en wat nie in ’n geskrewe bestaan het nie. “Ek was ’n gereelde intekenaar op Die Patriot en het dit ook bymy skryfwerk gebruik om die spelling na te gaan.”

      So het die verhale wat later in die bundel Die Nuwejaarsfees en ander Afrikaanse Verhale opgeneem is, ontstaan – by flou kerslig, al worstelende om die struikelblok van die uitdrukkingsmedium te bowete kom. Die bundel wat in 1918 uitgegee is, is deur die kunsskilder Erich Mayer geïllustreer. Die jaar daarop het Ou Malkop verskyn, waarvoor Maré die Hertzogprys verower het. Maar hy verklaar dat die twee bundels so kort op mekaar verskyn het, dat hy meen dat Die Nuwejaarsfees ook by die toekenning van die prys ingeskakel moet word.

      “Toot, die putgrawer, het werklik in my tuisdorp, Pitersburg, gewoon. Ek is aangegryp deur die lot van die behoeftige, sieklike man wat elke dag met sy emmer diep in die donker, nat aarde moes afsak om die gevaarlike dinamietstokke te laai,” vertel Maré. Hy vertel dan in Die Putgrawer die verhaal van die bedremmelde Toot, vasgevang tussen die harde rotsriwwe onder die aarde en die onbarmhartige, harde harte van sy goedbedeelde medemense wat hom as huurling in diens neem. So beskryf Maré die lewensgevaarlike spel met die brandende lonte:

      “Die lonte ja regtig reisies vir sy lewe! ... Die arme putgrawer voel of hy deur ’n towerkrag geboei is – of hy nie meer kan ontvlug nie – of hy van God en mens versaak is. Maar nog ’n oogwink, en omop sy maag het hy gedraai – ’n gejaagde kruip vorentoe, en hy vroetel vir lewe en dood om uit sy benoude omgewing te kom. Donker gasse van ontplofbare stof swem in krullende rokies voor hom verby; dis in sy neus opgetrek, dis oral en tot beswykens toe. Die tyd tik die dood daar agter af, met snelle skredes. O, die bronsdoppies! Skoenpunte en vingernaels en knieë is in harde grond, en fluks seil die putgrawer deur die inkswart duisternis... Hy skop en gryp gedurig met bene an hande hier en daar vas, tot hy uiteindelik op die gelykte te lande kom, waarvandaan hy die tonnel deurhardloop tot in die ronde, oop put. ’n Sirkeltjie van die lug lê daar hoog bo hom skoon en blou. Die putgrawer hef dankbare oë omhoog, maar hy spring na ’n kort sekonde halfduiselig in ’n emmer op die klipvloer van die put, gee ’n geweldige trek aan die lyn as teken om opgetrek te word, en gou voort!"

      Die toneel in die aand is heel anders:

      “Onder in die dorp, in twee huurkamers van sink en hout aanmekaar gesit, rus ’n kêreltjie van klein gestalte – rus Toot, die dorp se putgrawer, moeg en afgewerk na ’n lang week deurgebring in ’n nat bedompige put. En hy sit op sy katel langs sy vroutjie ’n Onderveldse rieltjie op sy konsertina troostend en speel. As hy nou en dan vir ’n oomblik ophou om te speel, dan het hy alleen oorgebuk na ’n fladderende kers op die tafel; en brand sy pyp weer, dan vlaas hy ’n rookkrulletjie in die lug by ieder draaitjie maak hy musiek. Klein kindertjies lê agter hom en sy vroutjie op die katel – tweetjiesonder by die voetenent, dig en warm toegerol in wolkomberse; ’n babatjie lief en teer, bo sluimerend tussen die kussings. Die putgrawer sit maar so in gedagte; en nou en dan as ’n rokie uit sy swart pypie krul, dan dril, dril sy musiek op sy wikkelende knie. Abdoel, die koelie van die Groen Koeliewinkel, dink hy, was weer die barmhartige Samaritaan vandag – die enigste ene onder almal- wat hom ontferm het om hom te help met ’n bietjie huisware; anders moes sy huis dolleeg gestaan het, dwarsdeur tot Maandag...

      “’n Blink ster lig ver in die bloute verby die kerktoring; die gefonkel van die ster trek sy aandag heel weg en weg; hy voel nietig en dink wat die lewe van die mens na alles tog is. Al die breë en gladde paaie van die lewens van rykdom en eer en hoogmoed; al dié besaai met dorings en distels; al die noues en ongemaklikes van die arme en bedrukte hier benede op die droewige ou aarde - ja, almal die fraaies en breës of smalles, gladdes en hobbelagtiges gaan maar net één koers. In sommige gevalle is die weg en die wêreld se loopbaan langdurig; in ander kortstondig; maar tog is daar net één plekvan bestemming waar die pelgrim eindig - waar die reisiger ontmoet word deur die Dood."

      Hendri Leon Francious Maré is op 14 September 1889 in Pietersburg gebore. Sy vader, wyle mnr. D.S.Maré, in lewe magistraat van Pietersburg, was 'n welbekende en alombeminde figuur, wat ook intiem metwyle president Kruger bevriend was. Sy oupa Maré was landdros op Graaff-Reinet. Sy moeder was voorheen onderwyseres en die egpaar het met hulle ses kinders in die "ou verdiepinghuis" gewoon, waar 'n wye vriendekring altyd gasvry ontvang is.

      Klein Leon en sy ouer broer het van keinsaf 'n groot leeshonger openbaar maar aanvanklik was hulle aangewese op Engelse leesstof, hoofsaaklik prenteverhale uit Engeland Elke Donderdag het hulle die pad uit die verdiepinghuis dopgehou en gewag vir die verskyning van die poskoets uit Pretoria, wat die gekleurde grapprentjies uit Engeland sou bring Chokee Billy en Ally Sloper. Veral laasgenoemde wasvoor die Vryheidsoorlog goed in Suid-Afrika bekend. Mnr. Maré besit nog 'n volledige stel uit die jaar 1880! Later het hulle ook The Boy's friend Library gekry. Sy eerste kennismaking met Afrikaanse leesstof het begin met Mooi Annie, die versies van F.W.Reitz, Koningin van Skeba en Jameson's Inval (Nico Hofmeyr).

      Sy eerste skooljare het Leon Maré in 'n skookgeboutjie op Pietersburg deurgebring waar mnr. Teubes die prinsipaal was. Intussen was daar egter die opwinding van die Jameson Inval. President Kruger het met sy ampsbesoeke aan die dorp by magistraat Maré tuisgegaan en hy was altyd van 'n klomp artilleriste vergesel vir wie ook voorsiening gemaak moes word. Daar was dikwels opstand, onluste en klein oorloggies onder die verskeie swart stamme in die noorde. Ook op die Jameson-inval het nog 'n paar sogenaamde Kafferoorloë gevolg; die laaste was die oorlog teen die jong opperhoof Mpefoe, seun van Magatoe.

      As klein seuntjie het Maré kennis gemaak met die latere boereheld en baasverkenner, Danie Theron, wat 'n tyd lank by hulle ingewoon het. Toe die ultimatum in 1899 teen Groot-Brittanje uitgevaardig is, was Maré tien jaar. Dit was 'n nog meer opwindende tyd as met die Jameson-inval. Die jongspan het toegekyk toe wapens aan die burgers uitgedeel is en hy en sy broer het hulle moeder 'n ruk lank feitelik dag en nag gehelp om brood en beskuit vir die kommando's te bak. Maar eintelik het die keerpunt gekom en die Engelse soldate het die kommando's vervang. Die dorp is deur blokhuise gefortifiseer en die jong seuns het gevind dat hulle met die Engelse soldate bevriend kon raak.

      "Die Driejarige Oorlog het 'n onuitwisbare indruk op my gemoed gemaak, " vertel mnr. Maré. "Ek kan die tydperk nou nog herlewe en sien nog altyd weer met watter roekelose dapperheid 'n handjievol burgers van die wyle genl. Beyers een oggend die blokhuis bokant ons huis bestorm het. Dit besiel my nog steeds met 'n gees van vaderlandsliefde." Onuitwisbaar bly die indruk van die jong seun, met draadknipper en sambok gewapen, wat 'n entjie van die fortjie dood lê - stilgemaak deur 'n Lee Metfortkoeël deur die hart. Maar sy taak om die deurmekaargevlegde drade van die blokhuis in die skemerure deur te knip sodat die manskappe kan deurstorm, was welgedaan. Onder die ander gesneuweldes was ook 'n grysaard, in toiings geklee. Nou het die seuns hul goeie vriende by die blokhuis gehaat, maar hulle het op hulle beurt verduidelik dat dit slegs hulle plig was om hulle skanse te verdedig. Hoewel hulle later weer met die Tommies begin handel dryf (groente of vrugte in ruil vir konfyt ens.) was die kameraadskap nooit weer soos voorheen nie.

      Maré is ook diep beïndruk deur die skilderagtige pioniersfigure met wie hy as kind in aanraking gekom het; olifantjagers, togryers, geharde poskoetsdrywers, e.d.m.

      'n Tyd na die oorlog het Maré en sy broer na die Boys' High School op Wellington gegaan waar hulle met seuns uit alle dele van die land in aanraking gekom het. Dit was 'n gelukkige tydperk in die bekende koshuis Sunnyside. Die prinsipaal was die bekwame Skotse onderwysman mnr. MacCrone. In 1907 het die seuns na Pretoris teruggekeer en die Eendagskool bygewoon, juis toe dr.N.M.Hoogenhout hoof van die skool geword het.

      Maré het vroeg al die begeerte gehad om geneesheer te word. Weens omstandighede is hy kort na sy terugkeer in Pretoris verplig om privaat verder te studeer. In die tyd het sy hoop opgevlam om sy ideaal te verwesenlik toe 'n Skotse dokter uit Edinburgh, met wie hy bevriend geraak het, beloof het om die koste van die mediese studie te dra. Die plan het egter skipbreuk gely en in 1909 is Maré na onvoltooide skoolopleiding, verplig om staatsamptenaar te word, allereers in die Departement van Justisie op Potchefstroom.

      Hoewel hy hom nie in die staatsdiens tuis gevoel het nie, het hy vir die Staatsdiensweteksamen begin studeer in die hoop om magistraat te word, maar gou gevind dat hy niks van die wet hou nie. "Ek het 'n belanglose jongman gebly tot ek op 'n dag 'n verhaaltjie geskryf het. Tot my groot vreugde het dit in 'n koerant verskyn en dadelik het ek 'n ware belangstelling ontdek," vertel mnr. Maré. Hierdie eerste stuk was Vertrek van Dassiehoek 1838, 'n grepie uit die dae van die voortrekkers.

      Om te skryf, al was dit ook in moeilike omstandighede, het nou vir hom 'n geestelike bevryding geword, want nou kon hy vertel van die dinge uit die verlede wat hom so diep aangegryp het. Die redakteur van Het Westen op Potchefstroom het hom aangemoedig en so het die sketse Vir Vryheid ontstaan, waarin by die herinnering aan die dapper seun wat by die blokhuis gesneuwel het, kon verwerk. Daarop het 'n reeks Oom Klaas van Rensburg gevolg, waarmee hy 'n prys by Die Brandwag verower het. Dit was 'n groot aansporing.

      Toe hy na Pretoria verplaas is, het wyle dr. W.M.R. Malerbe, destyds redakteur van Die Brandwag, Jan Celliers (wat 'n ruk saam met hom staatsamptenaar by die Uniegebou was en eintlik sy enigste geesgenoot uit die tydperk genoem kan word) en dr. Lydia van Niekerk hom aangemoedig om met sy skryfwerk te volhard. Sedert 1911 was hy dus 'n gereelde medewerker van Die Brandwag. Dis hierdie eerste sketse en verhale wat in die Nuwejaarsfees opgeneem is, almal geskryf terwyl hy 'n jong man van om die twintig jaar oud was, en dit is merkwaardig dat dit nog steeds sy beste werk vorm. Die sprankelende Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein, wat die titel van die boek verskaf het, is in 1911 geskryf nadat Maré 'n jolige bruilof in Pretoria bygewoon het.

      Mnr. Maré vertel dat die atmosfeer van die staatskantoor egter altyd stremmend op sy skeppingsdrang ingewerk het. Hy wou graag veel meer verhale om die ryke stof uit die verlede - die Voortrekkers, die grootwildjagters en die pionierslewe - weef, maar die stryd om te bestaan en die drukte van die kantoorwerk het stremmend op sy gees gewerk. Hy het etenstye tussen 1- en 2- uur probeer skryf, en dan weer saans. Maar sy ernstige begeerte kon slegs 'n stokperdjie bly. "Die verskeidenheid werk wat ek in die staatsdiens verrig het, het my met baie soort mense in aanraking gebring. Ek het mensekennis opgedoen wat ek graag in verhale sou wou verwerk het," vertel die skrywer. Op 'n slag het hy bv. in die Departement van Justisie met die rapporte van die tereggesteldes gehandel, wat hom 'n diep insig in die loopbane van die land se berugte moordenaars gegee het.

      In 1930, die jaar waarin hy ook getroud is, is hy as vertaler in die Departement van Justisie aangestel. Nadat hy 'n vertalerseksamen afgelê het, was hy staatsvertaler in die Departement Handel en Nywerheid en later vertaler by die Provinsiale Administrasie, in watter hoedanigheid hy in 1940 afgetree het. Sedert dié tyd is hy nog steeds verplig om tydelike werk in die staatsdiens te verrig ten einde sy karige pensioen aan te vul.

      Mnr. Maré vertel dat hulle as skrywers aan die begin geen vergoeding gekry het nie. Sy stukke in Het Westen, wat as vervolgstukke gedruk is, is sonder vergoeding geplaas. Die Brandwag het weer pryse uitgeloof waarvoor die skrywers meegeding het. Hy was gelukkig om dikwels pryse met sy werk te verower. Ook vir sy eerste boeke het hy maar min vergoeding ontvang. Vir Die Nuwejaarsfees was dit omtrent £45, vir Ou Malkop £10; die ander bedrae het hy vergeet.

      Skryfwerk was destyds beslis nie lonend nie," sê mnr. Maré glimlaggend, "en ons ouere skrywers kan in elke geval nie daarvan beskuldig word dat ons destyds terwille van die geld geskryf het nie. My moeder het 'n groot invloed op my lewe uitgeoefen. Sy het 'n wonderlike verteltrant gehad en ons as kinders het dikwels aan haar lippe gehang."

      Van Maré het sowat veertien boeke verskyn, waaronder drie verdienstelike kinderverhale, Vrolike Oudjies, Bartjie Koekemoer en Prefek Bobbejaan. Op die oomblik is mnr. Maré besig aan 'n kinderverhaal Lank Gelede wat binnekort vir die uitgewers gereed sal wees.

      Van sy werk sluit in Die Nuwejaarsfees en ander Afrikaanse Kortverhale (1918), Ou Malkop (1919), Verbygerolde Dae (1928), Mooi Lemoene (1931), Hardepad (1933), Nuwe Afrikaanse Kortverhale (1932), Togwaens (1946) en Pronkdae (1953). Dan het hy ook 'n verhaal van W.J.Marx vertaal Vir die Admiraal (1925), Seestories I en II is ook vertalings. Maré het ook Mooi Annie en Die jonge du Pré gedramatiseer.

      Maré se beste werk vind ons in sy eerste twee bundels. In Hardepad en Mooi Lemoene teken hy die lot van veral minderbevoorregtes, die vergetenes van sy volk in die agterbuurte. Hierdie werke val dan ook saam met die depressiejare en 'n mens kan aanneem dat dit moontlik 'n aanleidende saak was. Verbygerolde Dae gee ook grepe uit die verlede, soos bv. die avonture en ontberings van die grootwildjagters en die angs van die gesinne wat tuis moes wag. Pronkdae is 'n avontuurverhaal vir seuns oor struikrowers in die dae van die poskoets. Dis 'n spannende avontuurverhaal met orals bewyse dat die skrywer se vertellersgawe nie verroes was nie.

      Togwaens is ook 'n avontuurverhaal, dié slag oor die lewe van die togryders in Transvaal. Plek-plek laai die spanning hoog op, maar dikwels val die klem ook weer meer op die mens as die intrige.

      September vanjaar is Leon Maré 72 jaar oud; om na hom te kyk, 'n baie jeugdige en kragtige 72 jaar. Miskien kan die verantwoordelike instansies nog voor die tyd besluit om die werk van die skrywers uit die jare 1910 te herwaardeer en aan Leon Maré sy regmatige plek en verdiende waardering te gee voordat dit te laat is om slegs 'n kransie van berou op sy graf te plaas.

      Bron: Anthony Mare se webwerf


Home Page |  What's New |  Most Wanted |  Surnames |  Photos |  Histories |  Documents |  Cemeteries |  Places |  Dates |  Reports |  Sources